Brief aan ander slagoffers

Hierdie brief kom van `n graad tien dogter en is bedoel vir alle meisies wat moontlik aan dieselfde misbruik blootgestel is.

Wat met my gebeur het

Ek was amper verkrag deur twee van my vriende. Ek was geroep, hulle het my opgetel en ingedra na die hok toe. Ek het geskreeu en aangegaan maar niks het gehelp nie. Hulle het my kaal uitgetrek, my broek en panty. Die een het my hande onder die springs van die bed ingedruk, maar ek het losgekom. Hulle het my op die bed gegooi en die een het aan my vagina gevat en gesê dis lekker.

Die ander een …. was soos `n broer vir my. Ons het saam groot geraak en ek sou enigiets vir hom doen. Daar was tye wat sy ma hulle hom nie wou kos gee nie, dan gee ek my kos vir hom en dan gaan slaap ek sonder kos. Ek het hom daardie dag gevra om  my te help maar sy woorde aan my was `gaan jy vir my gee as ek jou help?` Dit is wat dit vir my swaar maak, want ek kan nie glo dat hy wat soos `n broer was vir my dit aan my gedoen het nie. Ek het huis toe gegaan en my ma gaan sê.

Hoe dit in die hof is:

Die mense wat daar werk laat jou baie gemaklik voel. Ek was bang toe ek die eerste dag moet gaan praat. Maar toe ek daar uit kom toe kan ek sê dat ek trots is op myself en wat hulle aan my gedoen het, verkeerd was. Al het jy wat ook al aan.die kortste dingetjie, dit gee niemand die reg om jou te wil verkrag nie. Al wat jy hoef te doen in die hof is vertel jou storie, sê net wat gebeur het en luister mooi na wat daar vir jou gevra word.

Ek het my eerste kwartaal rapport gekry en ek het gevoel dat my ma teleurgesteld is in my, al het sy nie so gesê nie.Maar ek gaan haar wys dat ek gaan harder leer en alles insit, sodat sy kan trots wees op my. Ek gaan nie toelaat laat dit wat met my gebeur het my skooloopbaan gaan beinvloed nie.

Voordat ek na Mev Olivier toe gegaan het was ek seergemaak oor wat gebeur het. Maar nou voel ek soos `n nuwe mens, ek kan in die straat loop met my kop hoog. Ek kan hulle in die oë kyk en sê `ek gaan nie laat julle my onderkry nie`

As jy verkrag was, of amper verkrag was, moet asseblief nie laat dit jou onderkry nie, want dis nie die moeite werd nie…

Jy kan loop soos jy wil jy hoef nie skaam te voel nie, want jy het niks verkeerd gedoen nie. Hou jou kop hoog en maak jou lewe `n sukses want dit is wat ek gaan maak van my lewe.

Ek loop met soveel haat in my. Ek haat die twee wat my wil verkrag het maar hulle gaan nie in my pad staan nie. Daar is baie daar buite wat verkrag is en miskien nog doodgemaak is, maar ons het nog `n tweede kans gekry.

Ek sal nooit weer so close kan raak met `n persoon soos wat ek met ….was nie.. Hulle vertel leuens in die hof, maar hulle kan wat daar binne sê, ek weet wat die waarheid is.

Ek hoop as jy dit lees sal jy beter voel..Ek weet waardeur jy gaan en hoe jy voel maar probeer sterk wees en moet nie moed verloor nie. Jy hoef nie bang te wees om te sê wat met jou gebeur het nie..Al wat jy hoef te doen is praat en praat die waarheid.

 

Dankie, 23 April 2013

Die twee jong manne is onlangs gevonnis. Die meisie se vriend het 15 jaar tronkstraf gekry en die ander een 10 jaar. Die landdros het die feit dat die vriend die meisie se vertroue misbruik het en waar hy haar moes beskerm, haar skade aangedoen het, beklemtoon, en hom om die rede `n swaarder straf opgelê.

Hierdie brief van ons 17 jarige slagoffer rig sy spesiaal aan meisies in dieselfde situasie om hul te bemoedig. Sy is `n baie dapper meisie en ons was so dankbaar dat die verkragters gevonnis is. Sy gaan egter van tyd tot tyd weer ondersteuning nodig hê, want dit sal vir haar moeilik wees om in `n liefdesverhouding te funksioneer.

Dis so jammer dat ons sien dat baie slagoffers nooit verlos word van die teistering nie, omdat die daders dikwels nie suksesvol vervolg word nie en nog in dieselfde omgewing as die slagoffer woon.Tog bring ons hulde aan die dapperheid van baie meisies ( en seuns) wat deur so `n ervaring gaan, en met die hulp van ons terapeute weer hul lewens opneem.